Wednesday, November 01, 2006

Vier Bergie-Poësie

Ambag Adel

Van hande-bak-hou ‘n ambag gemaak
en elke sypaadjie ‘n Sealy Posturepedic
Vir laatslaap die duurste prys betaal
met sente uit vuil palms

Slim praatjies of dalk net waarheid
laat Alleman se sente brand
Dwing hom dalk tot leuenaar
of ongewillige Samaritaan

Deur die vryheid van die lewe
in gevangenis gehou
Deur goedkoop wyn se walms
en dalk besluite te berou



Silver
“Goeie middag meneer...
Ek verkoop boekmertjies, maar ‘n donasie is ook welkom”


Uit die oë van ‘n oom
word ‘n vlam in my groter
Uit sy growwe, growwe hande
vloei sy paadjie regdeur my

Aantreklik kon hy eens
as jongeling soos ek
Nog droom oor groot gebergtes
uit die diepte van ons see

Maar nou, bukkend voor my
Met hande omgekeer
Is ek te bang om uit te vra
Te bang vir al die seer

Los sente kom te voorskyn
Terwyl note in my brand
En steeds dink ek aan Silver
Met ‘n boekmerk in my hand.



Klein Robbie (2000-2006)

In die donker van die avond
In die steur van die nag
Lê ‘n klein bruin seuntjie
tussen berigte versmag

sy drome bly drome
deur spirits en gom
Die winter word kouer
en die einde roep hom

sy asem word minder
en lyk al meer soos rook
sy lyfie ruk ritmies
sy ruggie trek krom

Sy naam was klein Robbie
En niemand mis hom.



Simon

In die skadu van sy naamgenoot
Word hy al jare groot
Verborge tussen akkers
Nog nooit verlos uit sy noot

Spaar sente, los lente
Rooi oog in die weer
Groen dampe van oorsprong
Vir vyf rand ‘n stop

Sy werk is sy lewe
Soos dokter of boer
Hy slaap in sy klere
En word min verroer

Sy leisels le traag
Sonder iemand wat lei
“My geloof is al jare by my verby.”

Simon staan stil dat meneer na jou kyk
Toemaar dis fine oubie
die duiwel sal wyk

Gelukkig is jy en min van jou soort
Wat geluk vind in rondlê en onmin vermy
Rooi, groen en geel om jou arm sê jy?