Die skare raas in sy ore en hy onthou hoe hy sy vingers afgelek het, reg vir die feesmaal. Hy dink vlugtig terug aan die harde musiek, die geslaan van dromme en die springende volgers van die liriekprofete. Hy dink aan hoe hy haar weggelok het met slimpraatjies en haar toe stadig maar seker van haar twyfels laat afstand doen het. Hy weet dat hy op daardie oomblik iets verkeerds moes gedoen het, miskien was hy hierdie keer net te haastig, want sy het skielik opgespring en probeer wegskarrel net voordat hy haar om die enkel kon gryp.
Hy onthou hoe sy greep verstewig het om haar enkel en sy naels oor haar vel geskraap het. Hy grynslag toe hy dink hoe hy haar nader gesleep het sonder dat sy eers probeer het om weg te kom. Teen hierdie tyd het die slaappille al ordentlik begin inskop.
Dis ‘n luide geklap van hande wat hom skielik terug in die realiteit inruk. Die laaste vertoning begin, maar hy is steeds vasgevang in die besaar in sy kop.
Hy onthou hoe die gras teen haar wang gekleef het terwyl sy daar langs die tent gele het. Rustig, min wetende van die onafwendbare feesmaal. Hy onthou hoe hy die donker aanvaar het as sy beskermer. Hoe hy die noodlot getart het om selfs geselsies aan te knoop met verbyganers wat haar nie kon sien in die donker kol agter die tent nie. Hy onthou hoe hy eers stadig sy sak uit die kattebak gaan haal het en dit stadig oopgerits het. Amper soos die klank van ‘n “lead” kitaar wat al hoër dwarrel, net soos die een wat nou daar op die verhoog skree.
Hy kyk na die springende kitaargode op die verhoog en verdwaal heeltemal in sy gedagtes, die feesmaal word diep agter lirieke en dansende beelde verberg. Hy voel hoe alles in hom op die maat van die musiek rondsmeer en hoe hy beheer van homself verloor. Net voor sy rug die ruit van die motor tref, proe hy die smaak van haar lipstiffie aan sy tong.
Hy onthou nou eweskielik hoe hy haar bemin het, na haar gestaar het, haar eintlik in sy arms wou hou terwyl sy by haar volle positiewe was, maar dit was buite die kwessie. Hy onthou sy hande oor haar borste, sy greep wat verstewig om haar elegante nek. Hoe hy haar hart kon voel klop in haar nek are. ‘n Stadig, rustig, ontspanne. Hy’t gewonder wat in haar kop aan die maal was. Op watter uitstappie het die slaappil haar geneem? Sou sy ooit die einde van die tonnel bereik voor die feesmaal sou begin?
“Dit was ‘n gelukskoot, volksmoord vir my!!!”
Die woorde laat sy kop willekeurig ruk en hy’s terug in die maalgat wat realisties om hom ronddans. Hy sien die skuttende koppe oral om hom, voel ‘n sigaret tussen sy vingers en die reddened walms oor sy palet. Hy glimlag. Hy sing saam. Hy voel deel! Waarvan weet hy nie, maar hy voel deel.
“’n Gekweste dier in ‘n haas op antibiotika” klap deur sy ore. Slaan hom terug tot by die feesmaal. Hy onthou nou hoe die klopping van haar nek in sy hande verstewig het. Die groot blou oë wat meteens oopgeskiet het. Hy onthou die skielike pyn tussen sy bene. Die krap van die naels in sy nek en gesig. Hy wil vergeet hoe hy ineengestort het, sy ken teen die karspieeltjie gestamp het en toe die warm bloed gevoel stroom het oor sy bors. Hy wil dit vergeet, hy moet dit vergeet.
Die uitblaas van die rook laat hom na nuwe woorde luister uit die towenaar op die verhoog se mond. Hy voel hoe hierdie realitiet die oorhand kry! Hy voel hoe hy beheer kry oor wat om hom aangaan. Hy sien die mense om hom se knikkende koppe en glimlag. Deur die skare sien hy haar helder blou oë naderkom, haar blonde hare en agter haar die manne in uniform, die sirenes.
Friday, February 20, 2009
Subscribe to:
Posts (Atom)