Dis donker in die vertrek. Maar hy wil sê hys dit gewoond! Hy dink dit is agtuur of so. Hy hoor die stemme buite die deur hy sien die wasem van vuil asems teen sy ruit. Hulle weet hy’s daarbinne en roep hom, speel met hom. Hy voel beskut in sy stewige kliphuis. Hy loer na sy deur. Sien die skuifslot. Oop!
Hy skuif stadig nader aan die deur en druk die slot toe. Die figure buite hoor dit en ruk net te laat aan die deur se handvatsel. Hy hoor hoe hul in vreemde tale praat. Baie rustiger as wat hy gedink het hul sou wees. Hy het altyd geglo dat hulle sou inbars en geweldadig te kere gaan om soveel vrees as moontlik in hul slagoffer op te wek. Maar hulle is stil. Rustig. Selfs georganiseerd. Hulle weet hulle het tyd. Sy plaas sit omtrent 80km vanaf die naaste dorp. Hy het geen telefoon lyn hier nie en sy selfoon lê in die motor. Hulle moes dit gesien het toe hul die motor oopgebreek het. Hulle weet hy is alleen. Hulle het al lankal besef daar is tyd om te speel. Kat en muis.
Die koue vrese het al keer na keer deur sy hele lyf geruk, maar hy word dit nou gewoond. Hy word die eentonige gepomp van adrinalien gewoond. Veg of vlug. Wat ookal eerste kom. Hy weet dat hul enige tyd die arme voordeurtjie kan stukkend skop. Dit verstom hom dat hul dit nog nie gedoen het nie. Hy beweeg terug na die hoofslaapkamer en krap in die kaste rond vir enige vorm van beskerming. Sy laaste jaggeweer se plek staan nog leeg in die hangkas. Verlede week gekonsferskeer deur die polisie. Hy het glo nie die regte lisensies gehad nie. Hy sien die ou jagtersmes in die onderste laai van die lessenaar. Sy enigste hoop. As hy net sy foon by hom gehad het. As hy net enige iemand kon laat weet. Koue vlamme slaan weer deur sy nek. Hy wil nie die realiteit aanvaar nie. Hy was nog altyd ‘n optimis en sal en bly tot die dood. Iets wat hom nou vierkantig in die oë staar. In die tweede laai lê ‘n bybel. Hy gryp dit saam met die jagtersmes. Hy stuit die deur met die lessenaar wat hy daarvoor trek. Hy hou die bybel stuif teen sy bors, die knipmes stewig in sy hande.
Hy hoor hoe die voordeur afgeskop word. Hulle snuffel rond in die voorvertrek. Steeds rustig. Asof hulle weet dat hierdie boer geen wapens of kommunikasie het nie. Sy enigste kommunikasie is die kommunikasie met sy God! Die kamerdeur se knop draai stadig en die deur druk teen die lessenaar. Nou word hul onrustig, luidrigtig.Asof hul hom wil laat weet dat hul van hom bewus is. Hulle stemme word harder. Dit klink soos ‘n duistere dreuning. Die deur word herhaaldelik gestamp en geskop. Hul tonge klap en hul lywe gooi skadus soos die gleuf tussen die deur en die koesyn groter word. Die lessenaar skuif al te maklik.
Adrinalien in die vorm van veg. Hy klou die Bybel in sy een hand en mes in die ander. Die deur swaai oop. Die voorste een se geel oë brand deur syne. In die agtergrond staan hulle die hele vertrek vol. Hy hardloop vorentoe en voel die eerste hou teen sy nek. Hy voel hoe sy jagtersmes diep in swart vlees indring. Hy voel die tweede hou teen sy kop, dan die derde, vierdie, dan donker. Pik donker!