Wednesday, October 11, 2006

Paradroom

Tussen gedagtes vind die winter
Gestalte in my droom
Saam met als wat wese, sein betref
Totdat als daarin omvou

Wou ek weet waar ek vandaan kom
En waarheen ek moet gaan
Deur brede of deur smalle weg
Saam volgers heen of leiers fort

Met vrae wat skok en plek bewaar
vir beitel op die leë tablet
Tabula rasa word gevul
Deur praatjies, vrae wat als onthul

Teen oë wat skree en water stort
Tot als weer eendag helder word...

Wednesday, October 04, 2006

Ja

Soms as ek aan my naastes dink
word alles stil en ek verdrink

Ek soek na ongevonde blou
in als van jou deur nou vervou

Ek vra en smeek
Ek vra en smeek
Maar net te sag
die hart verbreek.

Laaste vraag

Is dit alweer
Daardie tyd van die jaar
Dit weer te laat
Dit als laat vaar

Hoe lank sal ek nog aan jou kleef
Die beste mors, vir jou vergeef
Ek struikel deur die dagte gang
En als van jou, 'n hartseer bang

Los jou vaste
Volg dit na
Ek's als in jou
Tot nerwe, als die laaste vrae...

Nie Jou

Verwilderd deur die gedagtes in jou
Dis nie jou skuld nie
Vervaag is als aan jou gebied
Dis nie jou skuld nie

Verhinderd deur geraas
Van als in jou
Van almal om jou

Verjaag deur jou naastes
Vervleg in al jou struikels
Dis nie jou skuld nie...

Monday, October 02, 2006

Stilswye

Jy sweef deur Boheemse nagte
Tussen twee rooi drake
Dansend in die speling van ‘n tamboeryn
Deur die voering van die vrees
Deur die aanvoeling vir die wit onder naaste kombers

Sluip jy, voel jy.

Word alles vir jou duidelik
Saam met die swart piket onder donker weer
Weereens roep ek my geliefde

En staan in stilte verswelg.

Friday, September 29, 2006

Poort

Dis asof alles nou begin
en alles tot einde staan
in die niet van jou en alles om jou

Maak jy deure oop
Glimlag skuins en wonder
"Is jy my verlosser"

Voor poorte wat lei
tot duisend oseane
Staan net die dun gesaaides...

Wednesday, September 27, 2006

Dwaling

In watter winters dwaal jy my geliefde?
Waar in die groot sterreruim is jou kleure boog?
Is dit die vrae in die verlate van gister
Wat die eentonigheid deur die hede dra?

Wortel jy steeds in die grafte van Sion
En vlug jy steeds oor die draak se rug
Vol leemtes en strewe na vals geluk
Sonder enige soeke na soekende mae

In watter stegies swerf jy my geliefde?
In watter deursigtige ruim wentel jou smart?
Is dit die vrae van verdrukte kantore?
Wat die verstotenheid van die hede dra?

Hawelose

Ink vloei uit die pen
van die hawelose digter
Mense loop op straat
Nimmer maar nugter

Volkopskote klink die nagte in
Terwyl woorde sterf tussen lyne in
Uit die swart van die hand
Vloei woorde na die wit

Roemryke rymelary
Poëtiese smokkelary
Maar skryf sal hy skryf
Want die swartman is vry.

DIS

Dis die geel vlekkies in jou oë
Dis die wêreld in die donker
Dis my verlange na die vroë
Dis my kennismaking met Jonker

Dis my onderdrukte taal
Dis my vasgemaakte vlees
Dis die skape in die kraal
Dis Raka wat ons vrees

Dis die verlede van jou brein
Dis die oopgeskeurde siel
Dis die maanlig dowwe skyn
Dis onself wat dit verniel

Dis die einde van 'n era
Dis die begin van ons vrees
Dis die mense met gewere
Oneindig, hate vrees.

JOHNNY

Johnny was 'n eerbare lid van ons gemeente
'n Opregte vader, eggenoot en vriend.

Hy't gefight in die struggle
en sy sondes bely
Hy't hard gewerk
en 'n eerbare salaris gekry

Hy't 'n voorbeeld gestel
aan die misleide jeug

'n Vroutjie gekry
en met haar getrou
Haar liefgehad en sy woord gehou.

Hy't twee kinders die wereld gebied
Sy lewe geleef en toe homself geskiet.