Sunday, September 21, 2008

Voicemail

Die telefoon lui net. Aanhoudend. Hy moes al seker neergesit het maar hy hou aan en word verslaaf aan die ritmiese luitoon. Sy kop begin maal en flitse van kindergsigte word duidelik in sy kop. Hy beleef die aaklige gelag van die kinders op die speelgrond en hy wat alleen met stof op sy skoene en broek staan.

Hy voel hoe die groter seun vorentoe stap en hom vol in die maag slaan, hy voel hoe sy knieë lam word en hoe hy snak na sy asem. Hoe hy in ineenstort sonder om ‘n enkele geluid te maak.

Hy staan op en vee die stof van sy broek af. Dis lank nadat die klok gelui het en hy besluit om nie terug te gaan klas toe nie. “Hierdie is in elkgeval ‘n kak plek” dink hy terwyl hy by die voorhek van die verbeteringsentrum uitstap en sy iPod uit sy sak haal. Dromme klap in sy ore

“Cassius it’s over, you’re second best.”

Hy trek die groen baadjie en trui uit en gooi dit in die grys drom voor die One-Stop shop” , rol sy moue op en stap die winkel binne. “Pakkie Stuyvesant Filter asb.” Die armsalige ou agter die toonbank kyk hom snaaks aan en gee die pakkie sigarette stadig aan.

“Moet jy nie in die skool wees nie?”
“Lyk dit vir jou of ek in die fokken skool moet wees?

Die man agter die toonbank se naamplaatjie lees “Theunis”. Hy sê geen woord nie en neem die bondel kleingeld.
“Thuenis van die One-Stop Store!” Lag hy kliphard terwyl hy die winkel verlaat. “Fokken loser!!!”

Terwyl hy loop skeur hy die pakkie oop en sit ‘n sigaret in sy mond. Die gebeure van vroeër op die skoolgrond knaag nog in sy agterkop. Hy stap deur die bouvallige buurt en staar na die gebreekte ruite en skoon vuil wasgoed wat op die stoepe hang. Snaaks hoe veilig hy hier tussen al hierdie gemors voel. Hy gaan sit op die naaste padbankie en steek die sigaret aan. Hy kyk weer na die stof op sy skoene en spoeg op die sypaadjie. Die walms trek deur die krake in sy brein en hy voel sekondes van ontspanning. Sy Ipod hammer stewig The Used in sy ore:

“Just say what you want to say
It’s kind of funny how we’re not listening anyway”

Gedagtes moshpit deur sy kop.
“Ek gaan nie more weer na daai fokken plek toe nie, ek gaan ook nie vannand na daai gemors van ‘n man in my ma sy huis nie”
“My Ma? Ek wens dit kon ‘n given wees!”
“Ek gaan ook nie weer na daai fokken freak met sy dik brille toe wat my die heeltyd vra hoe ek voel nie.”
“En ook nie na oom Fred toe met sy leë geskenke en vuil look in sy oë nie.”
“Ek gaan ook nooit weer gaan huil by die begrafplaas nie, want sy kom nie fokken terug nie.”

Hy staar na sy foon en sien steeds die nommer op sy foon. Hy het nog nooit die guts gehad om dit af te vee nie. Miskien wou hy nog nooit glo dat dit wat gebeur het nie en dat Jules regtig weg is nie. Hy bel nog elke dag die nommer en sluk die trane oor haar stem op die voicemail.

“ Hello! Jules here, I’m not available… Hahaha, I’m not in the mood to talk to you honey, leave your voice … hahaha… you’re tickling me!!”


Hy hou die foon vir oulaas tussen sy Fingers.
“Ek gaan ook nooit weer hierdie fokken nommer bel nie.” Sê hy hardop terwyl hy die groen telefoontjie druk. Teen sy sin, maar vir oulaas. Dit neem langer as gewoonlik om na die voicemail oor te gaan. ‘n Koue sweet slaan skielik oor sy hele lyf uit. Die telefoon begin ritmies aan die anderkant lui.

Hy begin haar stem aan die anderkant hoor. “Hello…” Hy wag vir die woorde wat hy al so goed ken, maar dit bly by “Hello”. Dan nog ‘n “Hello is anybody there? Is it you Brian? I know you can’t talk to me. I just want to tell you that I’m fine! It wasn’t your fault. I’m not upset. I’m very very happy where I am now, so stop worrying about me. You’ll see me soon…”

Die harde stem van Mr Winston maak hom wakker.
“Brian!” Brian!! Is jy ok? Lyk my dit was ‘n hard hou!? Kom! Vee die stof van jou klere af. Maak dat jy in die klas kom!!”

Friday, March 21, 2008

Fynetjies

Hy nooi jou vir ete
Jys eers skrikkerig
maar die ete is altyd 'n feesmaal

Die geringste klanke word jou baarmoeder
en jou huis
die geringste weerstand, jou verhaal
jou siening van die heelal, geheel en al
jou woorde gee betekenins aan jouself en jy word mens

soms tuimel jy en word dit weer donker
en die nagereg kleef aan jou verhemelte
soms verwonder jy jouself dat jy ooit daar was

Moet Dit Uit?

Jy vra dat ek jou in 'n gedig moet omtuimel
Jou oë moet vaspen met woorde
Jou voete moet beskryf met parabole en sinne

Jy vra dat ek die winter in jou gemoed
verkleur met metafore
Ek antwoord in die vaagste dat die reënweer soms sal bly

Vergewe die skrywer
want sy woorde tuimel soms in die gebaar
Sy gedagtes dryf in die wemel van sy vrae
Sy magtelose soeke word herhaal
En alles om hom verander in prentjies van vroeër

Hy word geïnspireer deur dit wat hy soms wil voel en diè wat sy gewete teister
Clishces is donners waar!!

Sunday, February 10, 2008

Die hartenseer

Die ooghoeke het geskeur
die lig het verbeur
Die vrede het sy gang gegaan
Vededig die seervlekke

Die rooigloed in haar ewigheid
deur sy verbeelding versuur...

Iets wat wreed vreet word dikwels in die gemoed deur
jou donkerste monster oordonder en dan word jy mal

Wednesday, April 18, 2007

ISA se Gedig

Dis 'n lewe vol geloof
in 'n wereld sonder vrede...
Dit is wat Hy beloof
as ons glo in ons gebede

Dis uitsien na eendag
in 'n duister hede
Dis 'n kind wat lag
gered na 'n donker verlede

Filter

Filter filter deur my
maak die skeure slenter
vervul met asemrowende gebeure
in die tye van nou.

kyk daar is 'n punt aan jou sin
'n volle stopse
'n einde
'n nood

Luister as die leeraar
skreeu van aangesig tot aangesig
Sien jou weer!

Wednesday, November 01, 2006

Vier Bergie-Poësie

Ambag Adel

Van hande-bak-hou ‘n ambag gemaak
en elke sypaadjie ‘n Sealy Posturepedic
Vir laatslaap die duurste prys betaal
met sente uit vuil palms

Slim praatjies of dalk net waarheid
laat Alleman se sente brand
Dwing hom dalk tot leuenaar
of ongewillige Samaritaan

Deur die vryheid van die lewe
in gevangenis gehou
Deur goedkoop wyn se walms
en dalk besluite te berou



Silver
“Goeie middag meneer...
Ek verkoop boekmertjies, maar ‘n donasie is ook welkom”


Uit die oë van ‘n oom
word ‘n vlam in my groter
Uit sy growwe, growwe hande
vloei sy paadjie regdeur my

Aantreklik kon hy eens
as jongeling soos ek
Nog droom oor groot gebergtes
uit die diepte van ons see

Maar nou, bukkend voor my
Met hande omgekeer
Is ek te bang om uit te vra
Te bang vir al die seer

Los sente kom te voorskyn
Terwyl note in my brand
En steeds dink ek aan Silver
Met ‘n boekmerk in my hand.



Klein Robbie (2000-2006)

In die donker van die avond
In die steur van die nag
Lê ‘n klein bruin seuntjie
tussen berigte versmag

sy drome bly drome
deur spirits en gom
Die winter word kouer
en die einde roep hom

sy asem word minder
en lyk al meer soos rook
sy lyfie ruk ritmies
sy ruggie trek krom

Sy naam was klein Robbie
En niemand mis hom.



Simon

In die skadu van sy naamgenoot
Word hy al jare groot
Verborge tussen akkers
Nog nooit verlos uit sy noot

Spaar sente, los lente
Rooi oog in die weer
Groen dampe van oorsprong
Vir vyf rand ‘n stop

Sy werk is sy lewe
Soos dokter of boer
Hy slaap in sy klere
En word min verroer

Sy leisels le traag
Sonder iemand wat lei
“My geloof is al jare by my verby.”

Simon staan stil dat meneer na jou kyk
Toemaar dis fine oubie
die duiwel sal wyk

Gelukkig is jy en min van jou soort
Wat geluk vind in rondlê en onmin vermy
Rooi, groen en geel om jou arm sê jy?

Wednesday, October 11, 2006

Paradroom

Tussen gedagtes vind die winter
Gestalte in my droom
Saam met als wat wese, sein betref
Totdat als daarin omvou

Wou ek weet waar ek vandaan kom
En waarheen ek moet gaan
Deur brede of deur smalle weg
Saam volgers heen of leiers fort

Met vrae wat skok en plek bewaar
vir beitel op die leë tablet
Tabula rasa word gevul
Deur praatjies, vrae wat als onthul

Teen oë wat skree en water stort
Tot als weer eendag helder word...

Wednesday, October 04, 2006

Ja

Soms as ek aan my naastes dink
word alles stil en ek verdrink

Ek soek na ongevonde blou
in als van jou deur nou vervou

Ek vra en smeek
Ek vra en smeek
Maar net te sag
die hart verbreek.

Laaste vraag

Is dit alweer
Daardie tyd van die jaar
Dit weer te laat
Dit als laat vaar

Hoe lank sal ek nog aan jou kleef
Die beste mors, vir jou vergeef
Ek struikel deur die dagte gang
En als van jou, 'n hartseer bang

Los jou vaste
Volg dit na
Ek's als in jou
Tot nerwe, als die laaste vrae...

Nie Jou

Verwilderd deur die gedagtes in jou
Dis nie jou skuld nie
Vervaag is als aan jou gebied
Dis nie jou skuld nie

Verhinderd deur geraas
Van als in jou
Van almal om jou

Verjaag deur jou naastes
Vervleg in al jou struikels
Dis nie jou skuld nie...

Monday, October 02, 2006

Stilswye

Jy sweef deur Boheemse nagte
Tussen twee rooi drake
Dansend in die speling van ‘n tamboeryn
Deur die voering van die vrees
Deur die aanvoeling vir die wit onder naaste kombers

Sluip jy, voel jy.

Word alles vir jou duidelik
Saam met die swart piket onder donker weer
Weereens roep ek my geliefde

En staan in stilte verswelg.

Friday, September 29, 2006

Poort

Dis asof alles nou begin
en alles tot einde staan
in die niet van jou en alles om jou

Maak jy deure oop
Glimlag skuins en wonder
"Is jy my verlosser"

Voor poorte wat lei
tot duisend oseane
Staan net die dun gesaaides...

Wednesday, September 27, 2006

Dwaling

In watter winters dwaal jy my geliefde?
Waar in die groot sterreruim is jou kleure boog?
Is dit die vrae in die verlate van gister
Wat die eentonigheid deur die hede dra?

Wortel jy steeds in die grafte van Sion
En vlug jy steeds oor die draak se rug
Vol leemtes en strewe na vals geluk
Sonder enige soeke na soekende mae

In watter stegies swerf jy my geliefde?
In watter deursigtige ruim wentel jou smart?
Is dit die vrae van verdrukte kantore?
Wat die verstotenheid van die hede dra?

Hawelose

Ink vloei uit die pen
van die hawelose digter
Mense loop op straat
Nimmer maar nugter

Volkopskote klink die nagte in
Terwyl woorde sterf tussen lyne in
Uit die swart van die hand
Vloei woorde na die wit

Roemryke rymelary
Poëtiese smokkelary
Maar skryf sal hy skryf
Want die swartman is vry.

DIS

Dis die geel vlekkies in jou oë
Dis die wêreld in die donker
Dis my verlange na die vroë
Dis my kennismaking met Jonker

Dis my onderdrukte taal
Dis my vasgemaakte vlees
Dis die skape in die kraal
Dis Raka wat ons vrees

Dis die verlede van jou brein
Dis die oopgeskeurde siel
Dis die maanlig dowwe skyn
Dis onself wat dit verniel

Dis die einde van 'n era
Dis die begin van ons vrees
Dis die mense met gewere
Oneindig, hate vrees.

JOHNNY

Johnny was 'n eerbare lid van ons gemeente
'n Opregte vader, eggenoot en vriend.

Hy't gefight in die struggle
en sy sondes bely
Hy't hard gewerk
en 'n eerbare salaris gekry

Hy't 'n voorbeeld gestel
aan die misleide jeug

'n Vroutjie gekry
en met haar getrou
Haar liefgehad en sy woord gehou.

Hy't twee kinders die wereld gebied
Sy lewe geleef en toe homself geskiet.