Die winter begin saggies onderdeur die deur inkruip en Hannes trek die gordyne toe. Hierdie winter gaan ‘n koue een wees. Die somer was gans te warm. Hy staan in sy woonvertrek in sy 1970 dorpshuis in Bloemfontein. Hy is omring deur skilderye teen die muur. Een van hulle geskilder deur ‘n ene M.Maya. Hy stap verby die skildery wat ‘n verlore nagtegaal uitbeeld. Die agtergrond is ‘n halfdooie boom. Verlig deur die maanlig. Hy stap die kombuis binne en sit die ketel aan. Hy vind homself waar hy hardop roep. “Wil jy ook ‘n koppie...” Hy onthou dan eers dat sy nie meer daar is nie.
Dit was nie die eerse kaar dat Hannes geroep het na iemand wat nie meer daar was nie. Hy onthou hoe hy vir die laaste keer vir haar totsiens gesê het en hoe sy met trane in haar oë gestaan het sonder om terug te wuif toe hy by die voorhek uit verdwyn. Sy was, wat hy gedink het, die vrou van sy drome. Hy het haar in Stellenbosch ontmoet waar sy gewoonlik in die Afrikaanse Media klas naby hom gesit het. Hulle het van die begin af oor die weg gekom en kon ure lank gesels oor die dinge van die lewe. Hulle kon ure lank op die gras by die Rooiplein lê en verskillende filosofiese teorië op mekaar uit toets. Sy’t gewoonlik met haar kop op sy skoot gelê en met haar groot groen oë vir hom gesê dat hy perfek was. Hul was vier en twintig uur ‘n dag bymekaar en kon nie sonder mekaar funksioneer nie. Regte student liefde.
Dit sou dus net logies wees dat Hannes haar ouers sou ontmoet en een naweek het hy sy verskyning in die oprit gemaak en saam met haar uit die motor geklim om die familie te ontmoet. Hy het homself goed van sy taak gekwyt en die regte dinge gesê en gedoen op die regte tyd. Hy het egter gesukkel om heeltemal met haar tweeling suster oor die weg te kom. Dit was vir hom ‘n aangename verassing toe hy hoor dat sy ‘n identiese tweeling suster het wat glo kuns geswot het in Paarl. Sy het hom van die begin af snaaks behandel en dit het vir hom gelyk asof sy die enigste een in die gesin was wat hom nie heeltemal goedgekeur het nie. Hannes was bang dat die week wat hy by die aanstaande familie sou deurbring dalk onaangenaam kon word met haar ewigdurend onheilspelende glure. Sy het geglimlag en lekker saam gesels terwyl almal in die rondte was, maar sodra sy en Hannes alleen in dieselfde vertrek was het sy stil geword en dit was asof sy hom wou vermy.
Een aand toe Hannes reeds sy laatnag geselsies en vrytjie ingerky het en reeds ‘n geruime tydjie in die bed lê, gaan sy deur op ‘n skrefie oop. ‘n Figuur kom binne. Hy kon voel hoe die figuur langs hom in die bed klim en styf teen hom kom lê. Hy het die reuk geken. Dit was sý tweeling. Sy het hom hartstogtelik begin soen en haar vinger voor sy mond gehou toe hy iets wou sê. Hy het haar hele lyf verken en vir die eerste keer liefde gemaak met haar hele wese. Dit was asof hy haar opnuut leer ken het. Iets het in die gang geraas en sy het uitgeglip met ‘n vinnige soen op die voorkop en met die woorde wat hom koud gelaat het: “Ek is die suster.”
Hannes kon die hele nag glad nie ‘n oog toemaak nie. Die een koue sweet uitslag na die ander. Wat sou hy die volgende oggend doen? Wat sou hy sê? Sou sy iets sê?
Toe hy die volgende oggend by die ontbyt tafel aansit, was dit soos elke ander oggend. Sy eie tweeling het hom met haar vriendelike lewenslus gegroet en die suster het hom net aangegluur. Hy kon dit nie verstaan nie. Die res van die week het op die oppervlak glad verloop, maar binne in hom het dit gewoed. Toe hulle die dag groet het sy hom gesoen groet, maar niks gesê nie. Hannes en sy tweeling het in die motor geklim en teruggekeer Stellenbosch toe.
Twee jaar later het hul albei graad gevang. Hul liefde het steed gegroei en Hannes het by tye vergeet van die voorval by die ouerhuis. Die tweelingsuster is die volgende jaar Engeland toe om haar kuns te gaan uitleef en Hannes het haar intussen nie weer gesien nie. Sy kon ook nie Hannes hulle se troue bywoon nie as gevolg van een van haar kunsuitstallings in Europa.
Hannes kon dit regkry om partkeer vir maande van die voorval te vergeet, maar is elke keer daaraan herinner deur een van die skilderye wat aan hul geskenk was. Dit was gewoonlik een of ander abstrakte uitbeelding van die fisieke. Een was uiters eksplisiet, met twee identiese gedroggies wat aan ‘n frisgeboude figuur se voete sit. Dit was dan ook asof hierdie skilderye ‘n invloed op sy vrou gehad het. Sy het stiller geword en Hannes het die skuldgevoel in hom dieper probeer begrawe. Die stilte het deur die loop van die jare erger geword. Hy het al by verskeie mense gehoor dat dinge partykeer verander in die eerste paar jare na die troue, maar dit was vir hom buitegewoon. Die skuldgevoel in Hannes het al hoe erger geword, maar hy kon nooit die moed bymekaar skraap om dit uit te laat nie. Dit was in elk geval te laat en hy sou nie kon verduidelik waarom hy stil gebly het nie. Die stilte tussen hulle het dus vermeerder en so ook het die gaping tussen hulle.
Toe sy hom eendag sê dat hul moet gesels was hy oortuig daarvan dat sy uitgevind het. Haar suster moes die stilte verbreek het. Hannes het stil gesit en luister toe die woorde hom ruk soos ‘n vuishou op sy bors. “Hannes. Daar is iemand anders.” Hy het geweet dat dit niks sou beteken om meer uit te vra nie, maar het gehoor hoe hy vra wie dit was. “Dis Dewald. Jou broer. Dit het begin na die vakansie verlede jaar by jou familie.”
Hy stap die kombuis binne en sit die ketel aan. Hy vind homself waar hy hardop roep. “Wil jy ook ‘n koppie...” Hy onthou dan eers dat sy nie meer daar is nie. Hy skink sy koppie koffie en gaan sit agter sy rekenaar soos gewoonlik. Terwyl hy wag vir rekenaar om aan te skakel vang sy oog die skildery in die skerm se refleksie. ‘n Frisgeboude figuur, gehurkend by slegs een gedroggie!
No comments:
Post a Comment